Plaasveiligheid Deel 1

 

Plaasveiligheid

Deel 1

 

Inligting deur Jan Van der Merwe

 

Ons Boere op die plase en hulle gesinne is eerste prioriteit in die land, wat doen ons daaraan.

Ons moet ons selfbeveilig, dit is altyd te laat om te sê as ek dit maar gedoen het, om my gesin of eiendom te beskerm, daar is net een kans, nie twee nie, gewoonlik kom spyt te laat.

Ons kan dit nie alleen doen nie, daarom het ons ʼn samewerkings ooreenkoms tussen ons bure en boere nodig, saam met die gevorderde Elektroniese Tegnologie wat beskikbaar is.

Die Staat is verseker nie in staat om dit te doen nie, veral as daar gekyk word na al die voorvoorvalle wat plaas gevind het en nog voortgaan.

 

Ons Boere moet saam staan en hul eie veiligheid verseker ( die SA Polisie en sekuriteite’s   dienste is te ver en te stadig en ken nie die omgewing soos die boere, om spoedige en effektiewe optrede te verseker, en om bekamping te verseker nie.

 

Die omgewing sal onmiddellik weet van die samewerkings ooreenkoms tussen die boere veral as die eerstes gevang word met ʼn sigbare oormag boere en die regte koerant opskrifte.

Groot 400 x 500mm Borde met boere ooreenkoms moet versprei word en oral op plase aangebring word dat hierdie gebied deur die boere self in massa groepe beveilig word met Militêre akkuraatheid

Met die hulp van die nuutste tegnologie kan die boosdoeners gevang word. (kordon hulle af sodat hulle nie kan vlug nie en vang hulle)

 

 

Vrystaat Landbou gee wenke na aanvalle

Veiligheidsplanne moet hersien word om “sagte teikens” soos bejaardes en mense wat alleen op hul plase woon, behoorlik te beveilig, sê Vrystaat Landbou (VL).

Dit kom nadat daar al vier aanvalle, waarin drie mense dood is, net in Januarie op Vrystaatse plase plaasgevind het.

Volgens dié organisasie kan geweld op plase met goeie menseverhoudinge en deur samewerking met die polisie beveg word.

Dan Kriek, president van VL, het ’n versoek gerig aan alle beheerkamers en boereverenigings om hul veiligheidsplanne te hersien, veral as dit by die sogenaamde “sagte teikens” kom.

“Evalueer hoe ouer mense en diegene wat alleen bly en nie noodwendig by ’n stelsel kan of wil inskakel nie, betrek kan word.

“Skakel met die familie of die mense self oor beskikbare tegnologie en dienste.

“Die koste van lewensverlies kan nie opgemeet word teen die relatiewe lae koste van beskikbare tegnologie nie.”

Luidens die VL se verklaring speel goeie menseverhoudinge op verskeie vlakke ’n groot rol aangaande landelike veiligheid.

’n Bewys hiervan is volgens VL die spanwerk van boere en die polisie in die Bothaville-distrik wat tot die inhegtenisneming van ses vermeende plaasaanvallers gelei het.

Die vermeende booswigte is Sondag 18 Januarie vasgetrek slegs ure nadat Gert Malan (65) en sy vrou, Lulu (60), deur gewapende mans oorval is.

Volgens Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se wet-en-orde-komitee, is dié voorval ’n voorbeeld van hoe ’n veiligheidstruktuur in ’n gemeenskap en goeie samewerking met die polisie suksesvol kan wees.

“Ons moet egter nie net reaktief wees nie. Ons moet proaktief optree.”

Esterhuyse moedig landbouers aan om nie laks te wees as dit by hul eie veiligheid kom nie.

Kriek het gesê hy is trots op die “reaksie van Bothaville se veiligheidstrukture”, maar ernstige vrae moet gevra word oor hoe dit in die eerste plek gebeur het.

“Die organisasie wil fokus op die voorkoming van voorvalle en nie reaksie nie.”

Esterhuyse het gesê: “My en jou veiligheid is eerstens ons eie verantwoordelikheid.

“Wees paraat en tref die nodige voorsorg vir jou veiligheid.”

Dit sluit in:

■ Laat jou plaasopstal omhein waar nodig;

■ Pas toegangsbeheer toe deur op te let na verdagte voertuie, persone of omstandighede en deur goeie verhoudinge met jou werkers te handhaaf en ingelig te wees oor wie by hulle kuier;

■ Sluit aan by jou plaaslike veiligheidsnetwerk en hou die netwerk en die polisie ingelig oor verdagte persone, voertuie of omstandighede op die plaas;

■ Handhaaf goeie verhoudinge met die plaaslike polisiekantoor;

■ Woon veiligheidsvergaderings by;

■ Maak seker dat voorkomende patrollies  sigbaar is en dat dit aan die reëls van die polisie voldoen;

■ Wees betrokke by die gemeenskap en jou bure en weet wat gebeur in die omgewing;

■ Oorweeg alarmstelsels wat jou en ander in die omgewing kan waarsku as daar gevaar is;

■ Gebruik beskikbare tegnologie soos kamerastelsels of paniekknoppies wat aan beheerkamers gekoppel is;

■ Kontant moet sover as moontlik nie in huise gehou word nie;

■ Moet nie aan enigiemand wys dat vuurwapens en/of kontant in die huis gehou word nie.

Veiligheidskoördineerders word ook aanmoedig om kommunikasiekanale met die polisie oop te hou en verhoudinge op te bou.

“ VRYSTAAT LANDBOU  SAL  ALTYD REBELLEER TEEN ’N GEBREK AAN RESPEK VIR MENSE, ASOOK MENSE SE LEWE. ”

Verder word hulle versoek om met die polisie op tonele saam te werk en nie tonele te vertrap en sodoende bewyse vernietig nie.

Verder word gevra dat lede van veiligheidsnetwerke wat na tonele ontbied word, die toneel nugter sal betree, prakties sal optree en nie emosioneel sal raak nie.

Esterhuyse het gesê gereelde vergaderings vind met die polisie plaas om die situasie te bespreek, asook om op die hoogte te kom van die nuutste metodes en misdadigers se modus operandi.

Henk Vermeulen, hoofbestuurder van VL, het gesê: “Ons verwerp die voorvalle, sinnelose geweld en verlies aan lewe ten sterkste.

“Vrystaat Landbou  sal  altyd rebelleer teen ’n gebrek aan respek vir mense, asook mense se lewe.

“Ons kan nie in ’n demokrasie aanvaar dat diegene wat in landelike gebiede woon maklike teikens vir misdadigers is nie, en sal voortgaan met pogings om veiligheid in landelike gebiede op te skerp en te verbeter.”

■ Behalwe vir die aanval op die Malan-egpaar, was daar nog verskeie ander plaasaanvalle in Januarie in die Vrystaat. Die voorvalle is:

■ Die Swanepoel-egpaar, Toon (72) en Rienie (70), is in Bainsvlei vermoor. Hul lyke is op 12 Januarie gevind, ’n dag nadat hulle vermis geraak het.

■ Martie Bester (66) van Theunissen se verbrande lyk is ook op 12 Januarie in die plaashuis waarin sy gewoon het, gevind.

■ Corinda Marais is 19 Januarie op ’n plaas buite Viljoenskroon waar sy werk, saam met twee ander mense aangehou. Al drie is ongedeerd.

 

Sagte teikens wreed brutaal en genadeloos gemartel en vermoo

Ons kyk na :

Die profiel van ‘n Plaas aanvaller en die manier waarop hy toegang kry tot jou eiendom asook d’n gevalle studie wat gedoen was tov een van die plaas annvalle deur die groep Plaasveiligheid.

Laastens kyk ek na  raad oor plaasveiligheid

PLAASVEILIGHEID deur Marius Visser van die Kaiserstraat Boerevereniging

 

PROFIEL

Plaasaanvallers is meestal tussen 15 en 35 jaar oud, alleenlopend en werkloos.

Hulle beweeg meestal in groepe van drie tot sewe mans rond.

Sulke mense het ‘n persepsie dat álle boere vuurwapens het en dat die wapens maklik bekombaar is omdat boere op afgeleë plekke woon.

Die motief vir die meeste aanvalle is roof of wraak. Gewoonlik soek hulle vuurwapens, geld en ‘n voertuig.

Plaasaanvalle word meestal met militêre presisie uitgevoer.

Die aanvalle is so grusaam en brutaal moontlik.

Geen boer is te oud of te jonk, te ryk of te arm om deur te loop nie.

Volgens ‘n studie onder aanvallers wat vonnisse uitdien, skrik die tronkstraf hulle nie af nie, maar hulle voel tog dat die vonnisse te straf is.

‘n Plaasaanval het ‘n baie traumatiese uitwerking op ‘n gemeenskap.

Boere verskerp hul waaksaamheid nadat ‘n aanval in hul omgewing plaasgevind het, maar ná ‘n paar weke verslap hul waaksaamheid weer.

Plaasaanvalle word haarfyn beplan.

Die plaas word drie tot sewe dae lank dopgehou en daar was al gevalle waar dit weke lank dopgehou is.

Die aanvallers wil nie as ‘n groep saam gesien word nie – daarom doen net een of twee lede verkenningswerk.

n Metode waarmee aanvallers inligting bekom, is om voor te gee hulle soek werk.

Al het ‘n boer ‘n werker dringend nodig, moet hy eers die aansoeker se agtergrond deeglik ondersoek.

Vra sy naam en identiteitsboekie. As hy nie ‘n identiteitsdokument het nie, moet die boer hom onder geen omstandighede werk gee nie.

Vind uit waar hy voorheen gewerk het en doen navraag by daardie werkgewer.

As dit klink of hy vae inligting verskaf, of dit klop nie met die inligting wat die boer self inwin nie, moet hy die polisie ontbied en sy waaksaamheid verskerp.

SCS Beveel aan :-

ons stel voor dat die nuwe persoon se foto sowel as vingerafdrukke geneem word en by die boer se prokureur of iemand dergeliks gestoor word.

 

Maak ook ‘n afskrif van die nuwe werker se ID boek en maak seker u win soveel moontlik inligting oor hom in.

 

U MOET navraag doen by sy vorige werkgewers.

Voornemende aanvallers kom soms op ‘n plaas aan onder die voorwendsel dat hulle landbouprodukte of werktuie wil koop. Só bekom hulle waardevolle inligting oor die standaard van veiligheid op die plaas.

Om dít te voorkom, moet die boer die hekke om die plaaswerf gesluit hou (wat nie altyd prakties is nie) of ‘n kennisgewing by die ingang aanbring wat besoekers inlig dat die werf verbode terrein is. Die boer moet oplettend wees as vreemdes opdaag. As sulke mense hom nader, moet hy altyd sy waaksaamheid verskerp.

SCS Beveel aan :- dat die boer sy hele gesin opskerp deur die korrekte pro-aktiewe opleiding te kry.

Mense wat ‘n aanval beplan, is senuweeagtig en lyk skuldig. Moontlike tekens van senuweeagtigheid is vinnige spraak, uitermatige sweet, aggressiewe handbewegings, oë wat vinnig rondkyk en vlak asemhaling.

Wees baie versigtig vir iemand met ‘n baadjie of jas aan, want wapens kan maklik daarin versteek word.

Nóg ‘n metode wat misdadigers gebruik om inligting te bekom, is om huidige of gewese plaaswerkers te betrek, te intimideer of om te koop. Soms dreig hulle die werker of sy gesinslede met die dood. Andersins gee hulle vir hom geld, drank of sigarette. Inligting word ook op ‘n subtiele wyse uit werkers verkry deur hulle dronk te maak.

‘n Boer moet ‘n goeie verhouding met sy werkers handhaaf en hulle oorreed om hom te waarsku as ‘n vreemdeling inligting oor hom probeer bekom. Bied hulle ‘n beloning aan as hulle dit doen. Aanvallers se teiken is dikwels ‘n huisbediende, want sy is die enigste een wat weet waar die kluis- en motorsleutels is en wat die boer en sy gesin se bewegings ken. Boere moet dus nooit hul daaglikse beplanning voor bediendes bespreek nie.

As die misdadigers agterkom ‘n boer is voorbereid op ‘n aanval, sal hulle hom buite sy plaaswerf voorlê deur hom by ‘n plaashek in ‘n hinderlaag te lok, deur voor te gee hul voertuig het onklaar geraak, deur ‘n brand te stig of deur die kragtoevoer na die huis af te sny.

Aanvallers kry inligting op slinkse maniere

‘n Plaasaanval word gewoonlik deeglik vooruit beplan. Maar hoe weet ‘n boer as misdadigers ‘n aanval op sy plaas beplan? Terwyl hulle besig is om inligting in te samel, laat hulle tekens waarna ‘n boer kan oplet en wat hom kan laat lont ruik. As hy weet waarna om op te let, kan hy dalk betyds agterkom iets is nie pluis nie.

In hierdie artikel – die vierde in ons omvattende reeks oor plaasveiligheid – gee kenners wenke oor waarna om op te let en vertel hoe dié bose planne gefnuik kan word.
Die inligting vir dié artikel is aan Landbouweekblad verskaf deur ‘n boer van Lichtenburg, mnr. Koos Geldenhuys, wat ‘n studie van plaasaanvalle gemaak het. Hy het talle kenners op verskeie terreine geraadpleeg.

Die omstandighede waaronder aanvalle plaasgevind het, word deur verskeie kenners ontleed. Hulle kyk na foute wat in elke geval gemaak is, hoe dit voorkom kon word en gee wenke oor algemene veiligheid. Lesers kan hierdie wenke en lesse oor plaasveiligheid gebruik om méér paraat te word en só plaasaanvalle te voorkom. Dorpenaars en stedelinge kan die veiligheidswenke ook ter harte neem.

GEVALLESTUDIE

Beveiliging van huis baie swak

Die bejaarde egpaar in hierdie gevallestudie het net ‘n paar honderd meter van hul seun op die plaas gewoon. Hulle het baie veilig gevoel, maar die middele waarmee hul huis beveilig is, was baie ontoereikend.

Behalwe vir ‘n klein hondjie en ‘n Marnet-radiostelsel in die huis, was daar geen ander beveiligingsmaatreëls nie. ‘n Dowwe liggie bokant die voordeur was die enigste lig. Daar was geen diefwering voor die vensters of veiligheidshekke in die huis nie; ook geen waghonde buite op die werf of ‘n veiligheidsheining om die werf nie – toegang tot die huis was dus kinderspeletjies.

Die egpaar se pistool is in ‘n klerekas weggesteek. Met die Marnetstelsel in die huis het die egpaar gedink hulle kan dadelik hulp ontbied as hulle aangeval word. En wie sou dit waag om die huis binne te gaan, aangesien hulle ‘n pistool en ‘n paar jaggewere in die huis het? Baie mense wat só dink, is egter ‘n maklike prooi.

Die egpaar van in die sewentig het dié aand teen agtuur in hul slaapkamer televisie gekyk. Toe die hondjie begin blaf, was die aanvallers reeds in die huis. Die hondjie was baie oud en kon nie meer goed hoor nie. Daar was vier aanvallers – ‘n vyfde een het die seun se huis dopgehou. Drie aanvallers het handwapens gehad en die ander twee messe. Almal het musse gedra.

Daar was nie kans om alarm te maak nie, want die Marnet was in die eetkamer. Die bejaardes is met dasse vasgebind. Die aanvallers het toe vuurwapens en geld geëis, maar die oumense het nie geld gehad nie. Die aanvallers wou dit nie glo nie. Elke keer as die vrou gesê het daar is nie geld in huis nie, het hulle haar man geslaan. Hy het later geval. Een aanvaller het aan die kas vasgehou en op sy bors begin spring. Die geweldenaars het heeltyd gedreig om hulle “vrek” te maak.

Die egpaar se grootste vrees was vir hul kinders en kleinkinders, want die aanvallers het gesê hulle sal enigiemand doodskiet wat daar aankom. Hulle het gesoebat en mooi gepraat dat die mans moes ophou, maar die aanranding het eers geëindig toe die man sy bewussyn verloor het. Hulle het hom só styf in ‘n dik kombers toegedraai dat hy gesukkel het om asem te kry.

Hy het in ‘n stadium bygekom en sy vrou gevra of sy nog reg is. Die aanvallers het hom toe weer geskop en geslaan en hom stywer vasgebind, vermoedelik sodat hy moes versmoor. Die vrou is daarna losgemaak sodat hulle haar kon verkrag, maar sy het hardop begin bid en een van die aanvallers het die ander toe gekeer.

Sy is weer vasgebind en toe het hulle tydsaam die huis deurgesoek vir geld en vuurwapens. Hulle het die handwapen gevat en die jaggewere gelos. Die televisiestel, radio, klere en ‘n klomp huisraad is op die egpaar se bakkie gelaai en hulle het weggery.

Die kleinseun in die huis langsaan het sy oupa se bakkie hoor wegjaag, maar hy het nie sy pa daarvan gesê nie.

Die vrou het die heeltyd wat sy vasgebind was, gedink haar man is dood. Laat die nag het sy haarself losgewikkel en haar man gaan losmaak. Hy het geleef, maar het kwalik asemgehaal. Sy arms was só styf aan mekaar vasgemaak, dat sy die das om sy arms met ‘n skêr moes afknip. Toe het sy hulp ontbied.

Die aanvallers is ‘n week later aangekeer. Een van hulle het vroeër by die egpaar gewerk.

Die egpaar het ná die aanval ‘n klomp honde aangeskaf en diefwering voor al die vensters aangebring. Hulle leef steeds in vrees, want die geweldenaars het gedreig om eendag terug te keer as hulle die aanval sou aanmeld. Hoewel hulle traumabehandeling by hul kerk gekry het, kon hulle nog nie die gebeure verwerk nie.

Marius Visser van Kaiserstraat Boerevereniging gee raad oor plaasveiligheid

PLAASVEILIGHEID is hoog op die Kaiserstraat Boerevereniging se agenda veral ná die onlangse plaasaanvalle wat me. Waltraud Volkmann van Otavi en mnr. Gerd Wentscher van Okahandja hul lewens gekos het.

Dié boerevereniging het op sy algemene jaarvergadering verlede week die kundigheid van mnr. Marius Visser van Investigative Consultants & PI en mnr. Koos Keyser van Crime Stoppers ingeroep om lede oor plaasveiligheid en misdaadvoorkoming toe te spreek.

Mnr. Visser, ’n oudpolisieman en speurder met 40 jaar polisiediens op sy kerfstok, sê die twee grootste faktore wat aanleiding tot plaasaanvalle gee, is selfverryking en vergeldingsaanvalle.

“Selfverryking is in die meeste gevalle die doel van ’n plaasaanval, waar meestal geld gesoek word en kosbare items gesteel word wat vinnig verkoop kan word. Voertuie wat gesteel word, word meestal net gebruik om die gesteelde buit weg te ry of om vinniger van die toneel weg te kom,” sê mnr. Visser.

“In ’n mindere mate is daar vergeldingsaanvalle oor ’n voorval tussen ’n werkgewer en ’n werknemer.” Mnr. Visser het ook raad gegee hoe ’n plaasaanval hanteer moet word, maar beklemtoon dat elke geval op sy eie meriete hanteer moet word:

“Dit is altyd wys om alles te doen wat jou aanvaller van jou verwag. Dit laat hom in beheer voel en hy sal nie paniekerig raak en geweld oorweeg as hy samewerking kry nie. Sou hy geweld in die begin gebruik, is dit net om beheer te kry en sy dominansie aan sy slagoffer te bewys. Tydens die aanval moet u enige opsie oorweeg om veilig weg te kom of om beheer oor te neem. Moet nie enige poging aanwend om te ontsnap as die moontlikheid vir sukses nie groot is nie.”

Dit is ook belangrik dat daar genoeg bewyse vir die polisie ondersoek moet wees. “Indien daar wel ’n aanval op u geloods word en u moet terugveg, probeer om bewysmateriaal soos hare, vel, bloed, weefsels of stukke kledingstukke van die aanvaller op die toneel agter te laat,” sê mnr. Visser.

“Beserings aan ’n aanvaller kan ook as bewys dien.” Let ook op die aanvaller se aksent, taal, gelaatskleur, letsels of beserings.

Volgens mnr. Visser het roekelose of onverantwoordelike hantering van vuurwapens al baie menselewens gekos. Hy sê die volgende faktore geld vir veilige hantering van vuurwapens:

Indien u nie u vuurwapen onmiddellik nodig het nie, moet dit liefs in die kluis of ’n veilige plek buite sig gebêre word.

Wanneer u die plaas verlaat, moet slotte van vuurwapens en ammunisie op ’n veilige plek gestoor word. Waar moontlik moet ’n brandkluis in die muur gemonteer word sodat booswigte dit nie kan ronddra nie.

Moet nooit u wapen in die voertuig los nie, ook nie in die kombuis of in die gang op die kapstok hang nie. Vir verdere wenke oor misdaadvoorkoming en plaasveiligheid, skakel mnr. Visser by 081 128 2380.


 

× chat with us on WhatsApp