Beginsels van Selfverdediging

Beginsels van Selfverdediging deurJeff Cooper

Voorwoord

In ons verwarde samelewing loop daar ongeveer een uit elke honderd persone rond met misdadige neigings, wat nie sal skroom om vreedsame, onskuldige mense aan te rand wanneer vir hulle ‘n gunstige geleentheid daartoe opdaag nie.  Ons gaan van die standpunt af uit dat waar sulke mense deur misdadigers en rowers aangeval word, besit hulle minstens die reg op selfverdediging, alhoewel dit selfs in sekere regskringe betwis word en die slagoffers van die aanrandings aangeraai word om maar te probeer om te ontsnap.  Dit mag wetsgehoorsaam klink, maar baie slagoffers van aanvalle wat nie ‘n poging aangewend het om weerstand te bied en hulself te verdedig nie, moes al met hul lewens daarvoor boet.

Die misdadiger kan alleen met sy aanval slaag as sy slagoffer ‘n lafhart is.  ‘n Slagoffer wat met mening terugveg, stuur gewoonlik die boosdoener se planne in die war.  Die persoon mag miskien nie heeltemal ongeskonde daarvan afkom nie, maar indien hy nie teruggeveg het nie, kon hy miskien nog ernstiger beserings opgedoen het of selfs sy lewe verloor het.  Deur terug te veg, behou hy tog ook sy waardigheid en selfrespek.

In ‘n ondersoek na ‘n reeks gruweldade van ons tyd waar verskeie mense vermoor is, het aan die lig gekom dat die meeste slagoffers deur hulle ontstellende onbekwaamheid en vrees feitlik vir hul eie dood verantwoordelik was.  “Moet hulle tog nie kwaad maak nie, Martha, anders maak hulle ons seer.”

Alle persone wat aangeval word, is nie lafhartig nie, maar is só onvoorbereid op die aanval en word só onkant gevang dat hy nie weet wat om te doen nie en staan dan besluiteloos en verslae. Ons behoort almal onsself te bekwaam in gevegstegnieke soos Judo, Karate, pistoolskiet en ander.  In hierdie kort verhandeling bepaal ons ons uitsluitlik egter by die verskillende beginsels wat by selfverdediging van toepassing is.

Wees wakker en waaksaam

Dit is die eerste beginsel van selfverdediging.  ‘n Militêre bevelvoerder kan vir nederlae vergewe word, maar nie wanneer hy die onderspit gedelf het omdat die vyand hom verras het nie.  Om te alle tye wakker en waaksaam te wees, is een van die belangrikste beginsels van selfverdediging wat persone wat aangeval word, moet toepas om te verhoed dat hulle in die proses nie die onderspit delf nie.  Waaksaamheid is by sommige mense ‘n ingebore eienskap, maar ons almal kan dit ontwikkel en verskerp.  As ons besef en aanvaar dat die doodgewone, vreedsame omgewing waarin ons elke dag beweeg, ook gevaar kan inhou, sal ons waarneming en sintuie daardeur verskerp word.

Die fyn waarnemer weet altyd wat agter sy rug aangaan en gee spesiale aandag aan enigiets wat nie na die normale toedrag van sake lyk nie.  Erich Hartmann, die Duitse baasvegvlieënier van die Tweede Wêreldoorlog, het 351 oorwinnings op sy kerfstok.  Hy het gesê die feit dat hy oorleef het, was te danke aan ‘n baie sensitiewe “agterkant van sy nek” en omdat 80% van sy slagoffers nie geweet het dat hy saam met hulle in dieselfde lug was nie!

Dieselfde beginsel wat by gevegsvlugte in die lug van toepassing is, geld ook by selfverdediging op die grond.  Baie slagoffers van gewelddadige misdade is deur die boosdoeners verras.  Mense wat vooraf op hul hoede is, weerstaan gewoonlik die aanslag suksesvol, terwyl die ander wat verras word, verloor.

Teken gevalle aan waar iemand u ongesiens genader het, asook gevalle waar u ‘n vriend of familielid gewaar het, voordat hy van u bewus geword het.  So oefen ‘n mens die gewoonte in om oplettend te wees, selfs  so oplettend dat jy ‘n spoedlokval betyds gewaar en nie daarin beland nie.  Die misdadigers stel ook vir ons lokvalle wat ons betyds moet gewaar en vermy.

U kat of hond is goeie voorbeelde van huisdiere wat nie maklik verras word nie.  Dit is nie net alleen aan hulle uitstekende gehoor te danke nie, maar ook omdat hulle nie gedurig verstrooid met ontoepaslike gedagtes besig is nie.  Hulle bekommer hulle nie oor werk, voorkoms of belastings nie en stel hul fisiese sekuriteit eerste.  Ons moet ook so maak.  Mense wat daarteen  beswaar maak om so voortdurend bedag op moontlike gevaar te wees, vergeet dat ons in ‘n woeste wêreld leef waar jy feitlik enige oomblik deur ‘n aanvaller verras kan word.

Enigiets wat vir u buitengewoon voorkom, mag dalk ‘n gevaarteken wees.  Bejeen enige onbekende persoon wat u woning nader, met agterdog.  Meesal is so ‘n persoon skadeloos, maar ingeval hy nie is nie, sal hy u nie onverhoeds vang nie.  Sommige gevaartekens is vir ‘n oplettende persoon maklik herkenbaar, soos wanneer ‘n onbekende motor in die straat voor of naby jou huis of besigheid stilhou en die insittendes nie uitklim nie.  Wees op jou hoede vir ‘n motor wat al agter jou aanry op ‘n konstante afstand van jou eie voertuig af, ongeag teen watter snelheid julle beweeg.  Indien dit gebeur dat ‘n groepie persone wat staan en praat, skielik swyg as jy by hulle verbystap, is alles nie pluis nie.  As u so oplettend is om iemand te gewaar wat besig is om u huis dop te hou en skielik haastig word as u op hom afkom, is dit gerade om nader ondersoek in te stel, ook as u ontdek dat ‘n persoon u persoonlik dophou..

‘n Algemene skelmstreek van misdadigers is om onder valse voorwendsels toegang tot huise, persele en geboue te verkry.  Die persoon wat homself aanmeld, is nie altyd die beweerde munisipale amptenaar, versekeringsman of familie van u bediende nie.  In sulke gevalle moet u wakker loop.

Op straat moet u nie toelaat dat iemand opsigtelik te naby aan u kom nie en op u hoede wees dat hy nie u regterhand vasgryp nie.  Let fyn op.  Gaan nooit onbekende geboue of plekke onverhoeds binne sonder om die nodige versigtigheid aan die dag te lê nie.  Loop wyd om straathoeke of hoeke in gange van geboue en gebruik die weerkaatsing van vensters om te sien wie en wat agter u aankom.  As u op straat moet staan en wag, sorg dan dat u rugkant altyd beskut is deur ‘n muur, ‘n motor of iets dergeliks.  Hierdie maatreëls moet ingeoefende, vaste gewoontes by u word, sodat u nooit onverhoeds betrap word nie.

Dis alleen niksvermoedende, onoordeelkundige en verstrooide persone wat ‘n deur oopmaak sonder om te weet wie aangeklop het.  Sorg dat u deur ‘n loergaatjie het.  Gewoonlik meld misdadigers nie by ons voordeure aan nie, maar daar kan buitengewone uitsonderings wees.

Daar kan nog veel meer onveilige situasies as die bogenoemde voorkom, wat deur ‘n wakker waarnemer betyds herken moet word, sodat hy voorbereid kan wees om hom teen misdadige aanvalle te verdedig.  Wees dus te alle tye waaksaam.

 

Wees vasberade en beslis

Dit is die tweede beginsel van selfverdediging.  Dit is moeilik vir ‘n gewone, vreedsame huislike persoon om skielik met gewelddadige beslistheid op te tree wanneer hy deur ‘n skurk aangeval word.  Ons is nie gewoond aan geweld en noodtoestande nie en dit kos byna bomenslike inspanning en wilskrag om ons van vredeliewende kuikens na woeste valke te verander.  Beslistheid kan net soos waaksaamheid ‘n aangebore eienskap wees, maar dit kan ook doelbewus aangewakker en verskerp word.  Tydens formele oorlogvoering word elke soldaat maklik opgesweep om vasberade en beslis op te tree, maar in die privaat lewe is dit by selfverdediging moeiliker.

Wanneer u deur ‘n kwaadwillige persoon aangerand word, hang u lewe daarvan af of u die korrekte teenaksie kies en dit met beslistheid en sonder enige weifeling toepas en deurvoer.  In die hitte van die stryd kan nie besluitloos opgetree word nie, want daar is geen tyd om te verspil nie.  Om te weifel kan u dood meebring.  Die teenaksie wat u vir die geweldenaar se aanval kies, is belangrik, deurdat dit die geskikste een onder die betrokke omstandighede moet wees, maar die fermheid en energie waarmee u dit uitvoer, is van veel groter belang.

Die korrekte metode van verdediging is gewoonlik om aan te val, hoewel dit strydig is met ons normale beskaafde optrede.  ‘n Persoon moet hom dus doelbewus in die abnormale omstandighede indink en dit as ‘t ware teoreties inoefen, totdat hy seker is dat hy in ‘n noodtoestand nie sal huiwer om dadelik aanvallend op te tree nie.  Die wet laat toe dat u soveel geweld gebruik as wat nodig is om u self of u gesinslede of ‘n ander persoon van ‘n kwaaddoener se aanvalle te red.  U mag hom egter nie agtervolg met die doel om hom dood te maak nie, tensy u daarvan oortuig is dat die persoon aan ‘n baie ernstige misdaad skuldig is en dat die enigste maatreël om sy ontsnapping te voorkom, is om hom te skiet.  So sê die Strafproseswet.

U mag geen onnodige geweld gebruik nie, maar as iemand probeer om u dood te maak, mag u hom dood as daar geen ander uitkoms is nie.  Die gereg sal in hierdie geval redelik teen u optree, mits u kan bewys dat u lewe bedreig is, dat die aanvaller doelbewus probeer het om u dood te maak of te vermink, dat hy in staat was om dit te doen en dat die enigste uitweg om u eie lewe te red, was om hom dood te maak.  Dit geld ook vir verkragting, wat as ‘n baie ernstige liggaamlike aanval gereken word.

Onthou dan om wanneer u aangeval word, onmiddellik op die doeltreffendste aksieplan te besluit en dit blitssnel met al u krag uit te voer.  Hy wat weifel is verlore.  Slaan dadelik toe.  Wees beslis!

Wees aggressief

Dit is die derde beginsel van selfverdediging, maar ons neem nooit die voortou hier met geweld nie.  Die aanvaller sal altyd probeer om die eerste hou te slaan, waarna ons hom in eie munt mag terugbetaal.  Die beste verdediging is aanval en as dit enigsins moontlik is, moet u die aanrander se aanval neutraliseer met ‘n ontploffende teenaanval.

Daar mag faktore hier teenwoordig wees wat u teenaanval bemoeilik, soos ‘n swaar, sterk, rats en goedgewapende lummel, maar u aggressiewe teenaanval mag selfs vir hom ontsenu.  Onlangs het ‘n boef in Amerika agt persone aangeval en oorrompel.  Indien een of meer van hulle aggressief met mag en geweld teruggeveg het, kon hulle met hul getalsoorwig die bordjies verhang het.

In die dierewêreld is daar mooi voorbeelde van hoe die swakkere dikwels die sterkere met ‘n vertoning van brawade so ontsenu dat hy die aftog blaas, soos ‘n poedel wat ‘n wolfhond van sy eiendom of van sy kos af wegjaag, of ‘n kwaai kat wat ‘n groot hond laat vlug, of ‘n kraai wat ‘n arend verwilder.

Aggressiwiteit gaan gepaard met ‘n onskatbare morele voordeel in enige gevegsituasie, hetsy aanvallend of verdedigend.  Bloot die feit dat ‘n aanvaller nooit enige aggressiwiteit by sy prooi verwag nie, kan hom totaal ontsenu en verwar.

Indien ‘n gewapende persoon, wat goed opgelei en vaardig is, aangeval word, kan hy met ‘n kragtige handwapen ‘n hele seksie geweerskutters wat lomp en onbeplan aanval, op kort afstand deur sy aggressiewe optrede verwoes.  Ons behoort sulke militêre bedrewenheid aan te leer.  Iemand wat ‘n wapen besit, is nie noodwending bedrewe in die hantering daarvan nie.  ‘n Klavier in die huis tower nie al die huisgenote om in musikante nie.

In 1971 het ‘n leerling van Jeff Cooper in Amerika na ‘n partytjie effens aangeklam by sy huis aangekom en is deur vier gewapende mans aangeval.  Toe hulle op hom begin skiet, het hy ‘n aggressiewe sarsie van 22 skote binne 20 sekondes op hulle gelos, wat hulle paniekbevange laat weghardloop het.  Sy ontploffende reaksie op die aanval het beslis sy lewe gered.

‘n Aggressiewe reaksie word uit verontwaardiging gebore.  Lees die koeramte; kyk na die nuus.  Misdadigers het geen reg om op onskuldige mense toe te sak en u met gewelddadigheid te konfronteer nie.  U weersin in hulle optrede moet u tot woede aanspoor.  U reaksie moet nie een van vrees wees nie, maar van woede.  Hierdie twee emosies loop maklik deurmekaar.

Gedurende ‘n aanval moet u alle gedagtes aan gevaar hokslaan en bly konsentreer op die vernietiging van u vyand.  Woede stel u in staat om dit te doen.  ‘n Klein bejaarde dame het ‘n grypdief op loop gejaag deur hom met haar vuis en handsak deur die gesig te slaan, want sy was woedend!

Wat ons hier verkondig sal seker nie die goedkeuring van sekere sosiologiese kringe wegdra nie.  Ons stel egter oorlewing eerste.  Daarna kan oor morele en etiese norme gesels word.

As dit ooit gebeur dat u aangeval word, sal WAAKSAAMHEID u reeds ‘n klein waarskuwing gegee het. BESLISTHEID sal die korrekte aksieplan aandui en dit sal beslis ‘n TEENAANVAL wees wat uitgevoer moet word met alles tot u beskikking.  Wees verontwaardig; wees woedend; wees aggressief!

Slaan vinnig terug

Die vierde beginsel is spoed, wat absoluut noodsaaklik is vir suksesvolle selfverdediging en gevegstegnieke.  Spoed was nodig in die Sesdaagse Oorlog en is ook van belang in skermoefeninge en boksgevegte.  Die gebrek aan spoed was een van die Amerikaners se struikelblokke in Viëtnam, wat tot hul nederlaag bygedra het.  Napoleon het gesê:  “Ek mag ‘n geveg verloor, maar nooit ‘n minuut nie.”  In selfverdediging kan ons ook dalk sê: “Ek mag hierdie geveg verloor, maar ek sal nie hierdie sekonde verloor nie.”  Groot krag is van geen nut as dit nie vinnig aangewend word nie.  In die Wilde Weste hoor ‘n mens dikwels: “Doen aan ander wat hulle aan jou wil doen, maar doen dit eerste!”

Hierdie lesing gaan oor selfverdediging.  Ons durf nie iemand platslaan as ons dink dat hy ons gaan aanval nie, maar op die oomblik wat ons besef dat hy ons ernstige leed gaan berokken, moet ons vinnig te werk gaan.  As hy op ons skiet, moet hy uitgewis word voordat hy weer ‘n skoot kan inkry.  As hy tyd mors met dreigemente, kan ons die eerste hou inkry.

In die selfverdedigingsproses moet ons altyd onthou dat ons lewe gewoonlik op die spel is.  Daarom kan ons nie bekostig om in die proses sportiewe reëls toe te pas nie.  Wees vinnig en vuil!  “Be fast – not fair!”  Geen skeidsregter sal teen u kant kies nie.

Die perfekte geveg of verdedigingsaksie is oor voordat die verloorder besef het wat aangaan.  Die ideale verdediging is ‘n teenaanval wat slaag voordat die aanvaller besef dat hy meer afgebyt het as wat hy kan kou.  Daarom moet u onmiddellik  reageer as u aangeval word.  Wees blitsvinnig.

 

Wees kalm en akkuraat

Dit is die vyfde beginsel, wat ook beteken dat u moet kophou, want as u u selfbeheersing tydens ‘n dodelike aanval kwytraak, sal u waarskynlik nie oorleef om later verskonings te maak nie.  Moet dus nie eens aan verskonings dink nie.  Hou net kop!  Beheerste woede sal nie u doeltreffendheid benadeel nie.  Die misdadiger ken gewoonlik nie selfbeheersing nie.  Gebruik dus joue tot sy nadeel.  Wees versigtig as jy jou hande in ‘n teenaanval gebruik, want ‘n vuishou teen sy harde skedel sal gewis jou hand ernstig beseer.  ‘n Vinger in sy oog is makliker, veiliger en meer doeltreffend.

As u voorwerpe of wapens wil gebruik, doen dit om die meeste skade aan hom aan te rig sonder dat u self beseer word.  Die punte van sambrele, kieries en vuurysters is gewoonlik meer geskik om mee te steek as om mee te slaan.  Die punt moet na die gesig, keel of krop van die maag gemik word en kalm en berekenend met alle mag ingestamp word.

Die beste verdedigingswapen is ‘n swaar kaliber pistool of rewolwer, alhoewel ‘n haelgeweer met tuisverdediging nog beter kan wees indien daar vooraf voldoende waarskuwing was.  Indien u betyds ‘n vuurwapen kan bekom om ‘n aanval af te weer, moet u onthou dat die wapen slegs so doeltreffend kan wees soos u vermoë om kalm te bly en akkuraat te skiet.  ‘n Aanrander is meesal ‘n swak skut, maar nie altyd nie.

As ‘n opgeleide polisieman ‘n misdadiger sesmaal misskiet oor ‘n afstand van vier meter, is dit nie oor onbekwaamheid nie, maar weens sy gebrek aan konsentrasie omdat hy onder druk kop verloor.  Die vermoë om onder druk kalm te bly, is binne enige mens se bereik wat met wilskrag daaraan werk.  “Bokkoors” is dieselfde soort verskynsel as “menskoors”, maar dit kan beheer word.  Bly dus kalm en as u moet skiet, skiet dan akkuraat!

Wees meedoënloos

By hierdie sesde beginsel van selfverdediging moet ons onthou dat die skurk wat ‘n wederregtelike aanval op ‘n ander persoon loods, geen simpatie of konsiderasie verdien nie.  Alhoewel ons gewaarsku word teen “oor-reaksie” tydens die geveg, ag ons steeds die lewe van die persoon wat aangeval word, kosbaarder as dié van die wrede, wettelose skurk.  Sy aanval moet onmiddellik geheel en al beëindig word.

Ons probeer nie besin waarom hy hierdie kriminele daad pleeg nie en vra nie na sy ideologiese en psigologiese motivering daarvan nie of na sy sosiale agtergrond nie, maar probeer met alle geweld verseker dat jy tydens hierdie aanval aan die lewe bly.  Jou aanvaller moet vir sy lewe vrees.  Moet niks terughou nie.  Hou meedoënloos aan tot sy aanval stopgesit is, maar moenie daarna nog voortgaan om hom verder toe te takel nie.  Tref egter die nodige maatreëls om te verseker dat hy nie sy aanval weer kan hervat nie.  Onthou dat ‘n gewapende persoon, en meer bepaald iemand met ‘n vuurwapen of mes, gevaarlik is so lank as wat hy by sy bewussyn is.  Moet niks waag of huiwer nie.  Sit hom uit!

As u u hande moet gebruik, moet u dit doen met al die krag wat u het.  ‘n Halfhartige houtjie sal hom net woedend en meer vasberade maak om u te beseer en om die lewe te bring.  Slaan hom so hard as wat u kan.  Dieselfde geld ook vir die gebruik van u vuurwapen.  As u moet skiet, doen dit behoorlik.  Skiet na die middel van sy lyf. Ons kan sonder misdadigers klaarkom.

Ons hoor dikwels selfs van polisiewoordvoerders dat jy wanneer jy aangeval word, nie moet weerstand bied nie, want dit mag kwansuis die aanvaller meer opgewonde maak en tot groter geweld aanspoor.  Ons sal hierdie aansporing tot lafhartigheid maar liewer verontagsaam, as die woorde “eer” en “moed” nog vir ons enige betekenis het. Hoeveel keer is mense nie al vermoor omdat hulle geen weerstand gebied het nie!

Daar is ook ‘n ander baie gewigtige rede waarom slagoffers van gewelddadige aanvalle dit tog nooit passief moet verduur nie.  Die wet en wetstoepassers in vandag se ruggraatlose en toegeeflike wêreld tree meesal tandeloos op wanneer voorkoming van of straf vir gewelddadige aanvalle ter sprake is, sodat misdadigers al hul vrees vir die polisie of die howe verloor het.  Die plig om misdaad te bekamp, rus nou feitlik uitsluitlik op die slagoffers self, wat só meedoënloos op hul aanvallers moet terugslaan, dat dié geleer moet word om hul slagoffers te vrees, as hulle dan nie meer enige vrees vir die howe of polisie het nie.

‘n Misdadiger of terroris wat u aanval en ongeskonde daarmee wegkom, sal mos terugkeer en dit weer herhaal.  As u aan hom toegee, stel u u eie lewe – en dié van ander – in gevaar.  Die vertroeteling van moordenaars, geweldenaars en misdadige terroriste, noodsaak ons om nie meer hul straf aan die howe oor te laat nie en daarvan te vergeet wanneer jou lewe in gevaar is.  As jy deur ‘n dodelike aanval bedreig word, moet jy nie groothartig probeer wees nie.  Wees hard en meedoënloos.

Bron: Beginsels van Selfverdediging deurJeff Cooper

 


 

Plaasveiligheid Deel 1

 

Plaasveiligheid

Deel 1

 

Inligting deur Jan Van der Merwe

 

Ons Boere op die plase en hulle gesinne is eerste prioriteit in die land, wat doen ons daaraan.

Ons moet ons selfbeveilig, dit is altyd te laat om te sê as ek dit maar gedoen het, om my gesin of eiendom te beskerm, daar is net een kans, nie twee nie, gewoonlik kom spyt te laat.

Ons kan dit nie alleen doen nie, daarom het ons ʼn samewerkings ooreenkoms tussen ons bure en boere nodig, saam met die gevorderde Elektroniese Tegnologie wat beskikbaar is.

Die Staat is verseker nie in staat om dit te doen nie, veral as daar gekyk word na al die voorvoorvalle wat plaas gevind het en nog voortgaan.

 

Ons Boere moet saam staan en hul eie veiligheid verseker ( die SA Polisie en sekuriteite’s   dienste is te ver en te stadig en ken nie die omgewing soos die boere, om spoedige en effektiewe optrede te verseker, en om bekamping te verseker nie.

 

Die omgewing sal onmiddellik weet van die samewerkings ooreenkoms tussen die boere veral as die eerstes gevang word met ʼn sigbare oormag boere en die regte koerant opskrifte.

Groot 400 x 500mm Borde met boere ooreenkoms moet versprei word en oral op plase aangebring word dat hierdie gebied deur die boere self in massa groepe beveilig word met Militêre akkuraatheid

Met die hulp van die nuutste tegnologie kan die boosdoeners gevang word. (kordon hulle af sodat hulle nie kan vlug nie en vang hulle)

 

 

Vrystaat Landbou gee wenke na aanvalle

Veiligheidsplanne moet hersien word om “sagte teikens” soos bejaardes en mense wat alleen op hul plase woon, behoorlik te beveilig, sê Vrystaat Landbou (VL).

Dit kom nadat daar al vier aanvalle, waarin drie mense dood is, net in Januarie op Vrystaatse plase plaasgevind het.

Volgens dié organisasie kan geweld op plase met goeie menseverhoudinge en deur samewerking met die polisie beveg word.

Dan Kriek, president van VL, het ’n versoek gerig aan alle beheerkamers en boereverenigings om hul veiligheidsplanne te hersien, veral as dit by die sogenaamde “sagte teikens” kom.

“Evalueer hoe ouer mense en diegene wat alleen bly en nie noodwendig by ’n stelsel kan of wil inskakel nie, betrek kan word.

“Skakel met die familie of die mense self oor beskikbare tegnologie en dienste.

“Die koste van lewensverlies kan nie opgemeet word teen die relatiewe lae koste van beskikbare tegnologie nie.”

Luidens die VL se verklaring speel goeie menseverhoudinge op verskeie vlakke ’n groot rol aangaande landelike veiligheid.

’n Bewys hiervan is volgens VL die spanwerk van boere en die polisie in die Bothaville-distrik wat tot die inhegtenisneming van ses vermeende plaasaanvallers gelei het.

Die vermeende booswigte is Sondag 18 Januarie vasgetrek slegs ure nadat Gert Malan (65) en sy vrou, Lulu (60), deur gewapende mans oorval is.

Volgens Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se wet-en-orde-komitee, is dié voorval ’n voorbeeld van hoe ’n veiligheidstruktuur in ’n gemeenskap en goeie samewerking met die polisie suksesvol kan wees.

“Ons moet egter nie net reaktief wees nie. Ons moet proaktief optree.”

Esterhuyse moedig landbouers aan om nie laks te wees as dit by hul eie veiligheid kom nie.

Kriek het gesê hy is trots op die “reaksie van Bothaville se veiligheidstrukture”, maar ernstige vrae moet gevra word oor hoe dit in die eerste plek gebeur het.

“Die organisasie wil fokus op die voorkoming van voorvalle en nie reaksie nie.”

Esterhuyse het gesê: “My en jou veiligheid is eerstens ons eie verantwoordelikheid.

“Wees paraat en tref die nodige voorsorg vir jou veiligheid.”

Dit sluit in:

■ Laat jou plaasopstal omhein waar nodig;

■ Pas toegangsbeheer toe deur op te let na verdagte voertuie, persone of omstandighede en deur goeie verhoudinge met jou werkers te handhaaf en ingelig te wees oor wie by hulle kuier;

■ Sluit aan by jou plaaslike veiligheidsnetwerk en hou die netwerk en die polisie ingelig oor verdagte persone, voertuie of omstandighede op die plaas;

■ Handhaaf goeie verhoudinge met die plaaslike polisiekantoor;

■ Woon veiligheidsvergaderings by;

■ Maak seker dat voorkomende patrollies  sigbaar is en dat dit aan die reëls van die polisie voldoen;

■ Wees betrokke by die gemeenskap en jou bure en weet wat gebeur in die omgewing;

■ Oorweeg alarmstelsels wat jou en ander in die omgewing kan waarsku as daar gevaar is;

■ Gebruik beskikbare tegnologie soos kamerastelsels of paniekknoppies wat aan beheerkamers gekoppel is;

■ Kontant moet sover as moontlik nie in huise gehou word nie;

■ Moet nie aan enigiemand wys dat vuurwapens en/of kontant in die huis gehou word nie.

Veiligheidskoördineerders word ook aanmoedig om kommunikasiekanale met die polisie oop te hou en verhoudinge op te bou.

“ VRYSTAAT LANDBOU  SAL  ALTYD REBELLEER TEEN ’N GEBREK AAN RESPEK VIR MENSE, ASOOK MENSE SE LEWE. ”

Verder word hulle versoek om met die polisie op tonele saam te werk en nie tonele te vertrap en sodoende bewyse vernietig nie.

Verder word gevra dat lede van veiligheidsnetwerke wat na tonele ontbied word, die toneel nugter sal betree, prakties sal optree en nie emosioneel sal raak nie.

Esterhuyse het gesê gereelde vergaderings vind met die polisie plaas om die situasie te bespreek, asook om op die hoogte te kom van die nuutste metodes en misdadigers se modus operandi.

Henk Vermeulen, hoofbestuurder van VL, het gesê: “Ons verwerp die voorvalle, sinnelose geweld en verlies aan lewe ten sterkste.

“Vrystaat Landbou  sal  altyd rebelleer teen ’n gebrek aan respek vir mense, asook mense se lewe.

“Ons kan nie in ’n demokrasie aanvaar dat diegene wat in landelike gebiede woon maklike teikens vir misdadigers is nie, en sal voortgaan met pogings om veiligheid in landelike gebiede op te skerp en te verbeter.”

■ Behalwe vir die aanval op die Malan-egpaar, was daar nog verskeie ander plaasaanvalle in Januarie in die Vrystaat. Die voorvalle is:

■ Die Swanepoel-egpaar, Toon (72) en Rienie (70), is in Bainsvlei vermoor. Hul lyke is op 12 Januarie gevind, ’n dag nadat hulle vermis geraak het.

■ Martie Bester (66) van Theunissen se verbrande lyk is ook op 12 Januarie in die plaashuis waarin sy gewoon het, gevind.

■ Corinda Marais is 19 Januarie op ’n plaas buite Viljoenskroon waar sy werk, saam met twee ander mense aangehou. Al drie is ongedeerd.

 

Sagte teikens wreed brutaal en genadeloos gemartel en vermoo

Ons kyk na :

Die profiel van ‘n Plaas aanvaller en die manier waarop hy toegang kry tot jou eiendom asook d’n gevalle studie wat gedoen was tov een van die plaas annvalle deur die groep Plaasveiligheid.

Laastens kyk ek na  raad oor plaasveiligheid

PLAASVEILIGHEID deur Marius Visser van die Kaiserstraat Boerevereniging

 

PROFIEL

Plaasaanvallers is meestal tussen 15 en 35 jaar oud, alleenlopend en werkloos.

Hulle beweeg meestal in groepe van drie tot sewe mans rond.

Sulke mense het ‘n persepsie dat álle boere vuurwapens het en dat die wapens maklik bekombaar is omdat boere op afgeleë plekke woon.

Die motief vir die meeste aanvalle is roof of wraak. Gewoonlik soek hulle vuurwapens, geld en ‘n voertuig.

Plaasaanvalle word meestal met militêre presisie uitgevoer.

Die aanvalle is so grusaam en brutaal moontlik.

Geen boer is te oud of te jonk, te ryk of te arm om deur te loop nie.

Volgens ‘n studie onder aanvallers wat vonnisse uitdien, skrik die tronkstraf hulle nie af nie, maar hulle voel tog dat die vonnisse te straf is.

‘n Plaasaanval het ‘n baie traumatiese uitwerking op ‘n gemeenskap.

Boere verskerp hul waaksaamheid nadat ‘n aanval in hul omgewing plaasgevind het, maar ná ‘n paar weke verslap hul waaksaamheid weer.

Plaasaanvalle word haarfyn beplan.

Die plaas word drie tot sewe dae lank dopgehou en daar was al gevalle waar dit weke lank dopgehou is.

Die aanvallers wil nie as ‘n groep saam gesien word nie – daarom doen net een of twee lede verkenningswerk.

n Metode waarmee aanvallers inligting bekom, is om voor te gee hulle soek werk.

Al het ‘n boer ‘n werker dringend nodig, moet hy eers die aansoeker se agtergrond deeglik ondersoek.

Vra sy naam en identiteitsboekie. As hy nie ‘n identiteitsdokument het nie, moet die boer hom onder geen omstandighede werk gee nie.

Vind uit waar hy voorheen gewerk het en doen navraag by daardie werkgewer.

As dit klink of hy vae inligting verskaf, of dit klop nie met die inligting wat die boer self inwin nie, moet hy die polisie ontbied en sy waaksaamheid verskerp.

SCS Beveel aan :-

ons stel voor dat die nuwe persoon se foto sowel as vingerafdrukke geneem word en by die boer se prokureur of iemand dergeliks gestoor word.

 

Maak ook ‘n afskrif van die nuwe werker se ID boek en maak seker u win soveel moontlik inligting oor hom in.

 

U MOET navraag doen by sy vorige werkgewers.

Voornemende aanvallers kom soms op ‘n plaas aan onder die voorwendsel dat hulle landbouprodukte of werktuie wil koop. Só bekom hulle waardevolle inligting oor die standaard van veiligheid op die plaas.

Om dít te voorkom, moet die boer die hekke om die plaaswerf gesluit hou (wat nie altyd prakties is nie) of ‘n kennisgewing by die ingang aanbring wat besoekers inlig dat die werf verbode terrein is. Die boer moet oplettend wees as vreemdes opdaag. As sulke mense hom nader, moet hy altyd sy waaksaamheid verskerp.

SCS Beveel aan :- dat die boer sy hele gesin opskerp deur die korrekte pro-aktiewe opleiding te kry.

Mense wat ‘n aanval beplan, is senuweeagtig en lyk skuldig. Moontlike tekens van senuweeagtigheid is vinnige spraak, uitermatige sweet, aggressiewe handbewegings, oë wat vinnig rondkyk en vlak asemhaling.

Wees baie versigtig vir iemand met ‘n baadjie of jas aan, want wapens kan maklik daarin versteek word.

Nóg ‘n metode wat misdadigers gebruik om inligting te bekom, is om huidige of gewese plaaswerkers te betrek, te intimideer of om te koop. Soms dreig hulle die werker of sy gesinslede met die dood. Andersins gee hulle vir hom geld, drank of sigarette. Inligting word ook op ‘n subtiele wyse uit werkers verkry deur hulle dronk te maak.

‘n Boer moet ‘n goeie verhouding met sy werkers handhaaf en hulle oorreed om hom te waarsku as ‘n vreemdeling inligting oor hom probeer bekom. Bied hulle ‘n beloning aan as hulle dit doen. Aanvallers se teiken is dikwels ‘n huisbediende, want sy is die enigste een wat weet waar die kluis- en motorsleutels is en wat die boer en sy gesin se bewegings ken. Boere moet dus nooit hul daaglikse beplanning voor bediendes bespreek nie.

As die misdadigers agterkom ‘n boer is voorbereid op ‘n aanval, sal hulle hom buite sy plaaswerf voorlê deur hom by ‘n plaashek in ‘n hinderlaag te lok, deur voor te gee hul voertuig het onklaar geraak, deur ‘n brand te stig of deur die kragtoevoer na die huis af te sny.

Aanvallers kry inligting op slinkse maniere

‘n Plaasaanval word gewoonlik deeglik vooruit beplan. Maar hoe weet ‘n boer as misdadigers ‘n aanval op sy plaas beplan? Terwyl hulle besig is om inligting in te samel, laat hulle tekens waarna ‘n boer kan oplet en wat hom kan laat lont ruik. As hy weet waarna om op te let, kan hy dalk betyds agterkom iets is nie pluis nie.

In hierdie artikel – die vierde in ons omvattende reeks oor plaasveiligheid – gee kenners wenke oor waarna om op te let en vertel hoe dié bose planne gefnuik kan word.
Die inligting vir dié artikel is aan Landbouweekblad verskaf deur ‘n boer van Lichtenburg, mnr. Koos Geldenhuys, wat ‘n studie van plaasaanvalle gemaak het. Hy het talle kenners op verskeie terreine geraadpleeg.

Die omstandighede waaronder aanvalle plaasgevind het, word deur verskeie kenners ontleed. Hulle kyk na foute wat in elke geval gemaak is, hoe dit voorkom kon word en gee wenke oor algemene veiligheid. Lesers kan hierdie wenke en lesse oor plaasveiligheid gebruik om méér paraat te word en só plaasaanvalle te voorkom. Dorpenaars en stedelinge kan die veiligheidswenke ook ter harte neem.

GEVALLESTUDIE

Beveiliging van huis baie swak

Die bejaarde egpaar in hierdie gevallestudie het net ‘n paar honderd meter van hul seun op die plaas gewoon. Hulle het baie veilig gevoel, maar die middele waarmee hul huis beveilig is, was baie ontoereikend.

Behalwe vir ‘n klein hondjie en ‘n Marnet-radiostelsel in die huis, was daar geen ander beveiligingsmaatreëls nie. ‘n Dowwe liggie bokant die voordeur was die enigste lig. Daar was geen diefwering voor die vensters of veiligheidshekke in die huis nie; ook geen waghonde buite op die werf of ‘n veiligheidsheining om die werf nie – toegang tot die huis was dus kinderspeletjies.

Die egpaar se pistool is in ‘n klerekas weggesteek. Met die Marnetstelsel in die huis het die egpaar gedink hulle kan dadelik hulp ontbied as hulle aangeval word. En wie sou dit waag om die huis binne te gaan, aangesien hulle ‘n pistool en ‘n paar jaggewere in die huis het? Baie mense wat só dink, is egter ‘n maklike prooi.

Die egpaar van in die sewentig het dié aand teen agtuur in hul slaapkamer televisie gekyk. Toe die hondjie begin blaf, was die aanvallers reeds in die huis. Die hondjie was baie oud en kon nie meer goed hoor nie. Daar was vier aanvallers – ‘n vyfde een het die seun se huis dopgehou. Drie aanvallers het handwapens gehad en die ander twee messe. Almal het musse gedra.

Daar was nie kans om alarm te maak nie, want die Marnet was in die eetkamer. Die bejaardes is met dasse vasgebind. Die aanvallers het toe vuurwapens en geld geëis, maar die oumense het nie geld gehad nie. Die aanvallers wou dit nie glo nie. Elke keer as die vrou gesê het daar is nie geld in huis nie, het hulle haar man geslaan. Hy het later geval. Een aanvaller het aan die kas vasgehou en op sy bors begin spring. Die geweldenaars het heeltyd gedreig om hulle “vrek” te maak.

Die egpaar se grootste vrees was vir hul kinders en kleinkinders, want die aanvallers het gesê hulle sal enigiemand doodskiet wat daar aankom. Hulle het gesoebat en mooi gepraat dat die mans moes ophou, maar die aanranding het eers geëindig toe die man sy bewussyn verloor het. Hulle het hom só styf in ‘n dik kombers toegedraai dat hy gesukkel het om asem te kry.

Hy het in ‘n stadium bygekom en sy vrou gevra of sy nog reg is. Die aanvallers het hom toe weer geskop en geslaan en hom stywer vasgebind, vermoedelik sodat hy moes versmoor. Die vrou is daarna losgemaak sodat hulle haar kon verkrag, maar sy het hardop begin bid en een van die aanvallers het die ander toe gekeer.

Sy is weer vasgebind en toe het hulle tydsaam die huis deurgesoek vir geld en vuurwapens. Hulle het die handwapen gevat en die jaggewere gelos. Die televisiestel, radio, klere en ‘n klomp huisraad is op die egpaar se bakkie gelaai en hulle het weggery.

Die kleinseun in die huis langsaan het sy oupa se bakkie hoor wegjaag, maar hy het nie sy pa daarvan gesê nie.

Die vrou het die heeltyd wat sy vasgebind was, gedink haar man is dood. Laat die nag het sy haarself losgewikkel en haar man gaan losmaak. Hy het geleef, maar het kwalik asemgehaal. Sy arms was só styf aan mekaar vasgemaak, dat sy die das om sy arms met ‘n skêr moes afknip. Toe het sy hulp ontbied.

Die aanvallers is ‘n week later aangekeer. Een van hulle het vroeër by die egpaar gewerk.

Die egpaar het ná die aanval ‘n klomp honde aangeskaf en diefwering voor al die vensters aangebring. Hulle leef steeds in vrees, want die geweldenaars het gedreig om eendag terug te keer as hulle die aanval sou aanmeld. Hoewel hulle traumabehandeling by hul kerk gekry het, kon hulle nog nie die gebeure verwerk nie.

Marius Visser van Kaiserstraat Boerevereniging gee raad oor plaasveiligheid

PLAASVEILIGHEID is hoog op die Kaiserstraat Boerevereniging se agenda veral ná die onlangse plaasaanvalle wat me. Waltraud Volkmann van Otavi en mnr. Gerd Wentscher van Okahandja hul lewens gekos het.

Dié boerevereniging het op sy algemene jaarvergadering verlede week die kundigheid van mnr. Marius Visser van Investigative Consultants & PI en mnr. Koos Keyser van Crime Stoppers ingeroep om lede oor plaasveiligheid en misdaadvoorkoming toe te spreek.

Mnr. Visser, ’n oudpolisieman en speurder met 40 jaar polisiediens op sy kerfstok, sê die twee grootste faktore wat aanleiding tot plaasaanvalle gee, is selfverryking en vergeldingsaanvalle.

“Selfverryking is in die meeste gevalle die doel van ’n plaasaanval, waar meestal geld gesoek word en kosbare items gesteel word wat vinnig verkoop kan word. Voertuie wat gesteel word, word meestal net gebruik om die gesteelde buit weg te ry of om vinniger van die toneel weg te kom,” sê mnr. Visser.

“In ’n mindere mate is daar vergeldingsaanvalle oor ’n voorval tussen ’n werkgewer en ’n werknemer.” Mnr. Visser het ook raad gegee hoe ’n plaasaanval hanteer moet word, maar beklemtoon dat elke geval op sy eie meriete hanteer moet word:

“Dit is altyd wys om alles te doen wat jou aanvaller van jou verwag. Dit laat hom in beheer voel en hy sal nie paniekerig raak en geweld oorweeg as hy samewerking kry nie. Sou hy geweld in die begin gebruik, is dit net om beheer te kry en sy dominansie aan sy slagoffer te bewys. Tydens die aanval moet u enige opsie oorweeg om veilig weg te kom of om beheer oor te neem. Moet nie enige poging aanwend om te ontsnap as die moontlikheid vir sukses nie groot is nie.”

Dit is ook belangrik dat daar genoeg bewyse vir die polisie ondersoek moet wees. “Indien daar wel ’n aanval op u geloods word en u moet terugveg, probeer om bewysmateriaal soos hare, vel, bloed, weefsels of stukke kledingstukke van die aanvaller op die toneel agter te laat,” sê mnr. Visser.

“Beserings aan ’n aanvaller kan ook as bewys dien.” Let ook op die aanvaller se aksent, taal, gelaatskleur, letsels of beserings.

Volgens mnr. Visser het roekelose of onverantwoordelike hantering van vuurwapens al baie menselewens gekos. Hy sê die volgende faktore geld vir veilige hantering van vuurwapens:

Indien u nie u vuurwapen onmiddellik nodig het nie, moet dit liefs in die kluis of ’n veilige plek buite sig gebêre word.

Wanneer u die plaas verlaat, moet slotte van vuurwapens en ammunisie op ’n veilige plek gestoor word. Waar moontlik moet ’n brandkluis in die muur gemonteer word sodat booswigte dit nie kan ronddra nie.

Moet nooit u wapen in die voertuig los nie, ook nie in die kombuis of in die gang op die kapstok hang nie. Vir verdere wenke oor misdaadvoorkoming en plaasveiligheid, skakel mnr. Visser by 081 128 2380.